Besonderhede
Sadie agtergrond
Marais agtergrond
Nasate pdf-formaat
Ou Sadie foto's
Foto's ons gesin
Elbeth se gesin
Christo se gesin
Emiline se gesin
Ander Sadie gesinne
Familienuus
Sadiesaamtrek 2018
MARAIS STAMVADER
EUROPESE AFKOMS

Charles Marais en sy familie was gevestig op Longvilliers, eintlik op Bouc-Etourdi wat nou steeds nog net 6 huise het en deel is van Longvilliers, ongeveer 2km weg. Longvilliers het nou nog net 500 inwoners, pragtige dorpie met teerstrate, sypaadjies, munisipaliteit, ens. en elke erf is basies 'n kleinhoewe, sonder enige hotelle, nywerhede of winkels; dit word nie toegelaat nie. Die landgoed wat aanvanklik oorheersend was en nog steeds daar is, met 'n pragtige kasteel op, het ook 'n klein kapel waar hulle kerk toe gegaan het. Aanvanklike naam Le Plessis de Marle, nou gewysig na Le Plessis de Mornaix. Sy oudste seun, Charles, was 'n offisier in die Franse Weermag en het ook baie gehelp om Hugenote te laat vlug.

In 1685 sweer Charles Marais en sy gesin, asook sy skoonfamilie, die Rooms Katolieke Geloof af in die teenwoordigheid van die priester, Mignon. Op 30/12/1687 vlug hulle uiteindelik die land uit na Antwerpen in Nederland, waar hulle opgeneem was in die Kerk vir die Hoër Burgers (Bourgeois). Hul vlug was hoofsaaklik veroorsaak deur die herroeping van die Edik van Nantes, wat die regte van die Hugenote omtrent totaal weggeneem het en dus die vervolging van Hugenote laat toeneem het deur die Rooms Katolieke Kerk en Koning Lodewyk die Veertiende (die Sonkoning).

Charles Marais was grond aangebied deur die Hollandse Oos Indiese Kompanjie weens sy kennis en vaardigheid in boerdery. Hulle het Holland verlaat op 'n klein skip met die naam Voorschoten, saam met ander Hugenote en arriveer in Suid Afrika in April 1688, waar 'n storm hulle by Saldanhabaai laat strand het en ander skepe hulle geneem het na Kaapstad (Jupiter).

Die familie was Charles snr., sy vrou Catherine Tabordeaux en kinders Charles, Claude, Isac en Marie-Madeleine. 'n Ander seun, Jacques, het agtergebly en nie saamgekom nie. Hulle was 'n plaas uitgereik naby die Paarl wat hy ook Le Plessis de Marle genoem het. Hy en sy familie het die plaas ontwikkel in 'n spoglandgoed wat nou besit word deur die drankmaatskappy Distell. Die aanvanklike huis bestaan nie meer nie, maar die huis wat nou daar staan is deur sy een kleinseun, Jacob, gebou en dien vandag as 'n onthaalsentrum vir die landgoed. Charles Marais snr. was deur 'n Koi-koi man (Edissa) vermoor, slegs 4 jaar na sy aankoms, toe hy (Charles) hom gevang het waar hy waatlemoene steel.
(Hierdie inligting het ek verkry van Abrie Marais van Paarl, wat Longvilliers besoek het.)

VERSLAG UIT VAN DER STEL SE DAGBOEK

Die volgende kom uit die dagboek van Simon van der Stel: 1689, 5 April - Tegens de middag wordt hier door den Hottentots-kaptein Thomas een zijner Hottentotten in hecthenis gebracht, dewijl hij een der Franse vlugtelingen woonagtig aan Drakenstein, moordadig om het leven heeft gebracht. 21 April - Is de gevangen Hottentot, over een manslag aan een Fransman door hem gedaan, deze morgen door de Raad van Justitie de dood aangeseid. 23 April - Heden is de gevangen Hottentot ter dood gebracht in Conformiteit van de volgende Sententie: "Also de Hottentot Edescha, bijenaamd Dikkop, resorterende onder het kraal van zijn overleden Kaptein Thomas, altans 's hierdie gevangene meer dan 25 jaren oud, aan de Ed. Achtb. Raad van Justitie aan deze plaats, buiten pijn en dwang van ijzeren banden of te enige dreigementen van dien, vrijwillig heeft beleden en bekend, en zulks genoeg zijnde gebleken, dat hij (gevangene) niet heeft ontzien, op de 29 ste Maart laasleden, 's middags omtrent een uur voor zonsondergang te komen, benewens twee andere Hottentotte van 't zelfde kraal, in de tuin van de Franse landbouer Charles Marré, wonende aan Drakenstein, en denzelfe op een onbeleefde manier en met wrange woorden watermeloenen af te vragen, en tot antwoord van de voornoemde Marré gekregen hebbende, geen van die rijp te zijn, - dat hij (gevangene) onderstaan hadde op zijn eigen autoriteit een derzelve af te plukken, en die niet bekwaam om gegeten te worden bevinde, dat hij dezelwe naar 't hoofd van die gezeide Charles Marré heeft geworpen, zonder hem nochtans te raken, dat hij (gevangene) ook niet geschroomd heeft uit enkele baldadigheid tot twee verscheiden malen klei of klipstenen op te rapen, en daarmede de gemelde Marré diermate in zijn linkerzijde of lies te treffen, dat dezelve daardoor genoodzaakt was hem naar huis te begeven en zich aldaar te bergen. Dat hij (gevangene) zich vervolgens naar zijn voorzeide kraal vervoegd, en aldaar verstaan hebbende, dat Charles Marré na verloop van vier dagen, en sedert dat hij hem geworpen hadde, was komen te overlijden, hij zich versteken hadde, en landvluchtig geworden was, totdat hem zijn eigen volk en landraad achterhaald, en in handen van Justitie overgeleverd hebben.Dat aan de Ed. Achtb. Raad van Justitie gebleken is, door de verklaring van de Chirurgijn van Stellenbosch, Jan du Plessis, na gewone inspektie en gedane opening van des overledens lichaam, ten overstaan van de Landdrost en heemraden in geschrifte gegeven, als dat hij (du Plessis) in de linderdije of lies van de overledene Marré een grote Contutie zowel binnen als buiten, een hartader gebroken, en 't bloed door 't lichaam samen geronnen gevonden heeft, oordelende daarop de dood gevolgd en veroorzaakt te zijn. Dat hij (gevangene) eindelik zo voor gekommitteerden ui de Ed. Achtb. Raad van Justitie, alsmede in Judicis in 't bijwzen van de omliggende Hottentots Kapteinen openlik bekend en vrijwillig beleden heeft zijn voorzeide feit waarachtig, en daarom des doods schuldig te zijn.... Aldus gesententieerd in 't Casteel de Goede Hoop den 20 en April 1689, nutsgaders geexecuteerd den 23 en aanvolgende. Geteken: sterf van der Stel, Dominique De Chavonnes, Eerw. Pieter Linis, Jan Hendrik Blum, A. van Rhede, Christiaan Freser, Guilliam Hees (of Heems), J.D. du Beer.
Bygedra deur Adela Meyer mwadela@mweb.co.za

VERSLAG VAN DOKTER WAT LYKSKOUING GEDOEN HET

In 'n boek deur Juliet Marais Louw, "The Huguenot Story" kom die volgende voor rondom die verhaal van Charles Marais voor. Net so terloops, reken die skryfster, dat Charles die eerste persoon was waarop 'n lykskouing uitgevoer sou wees die dag na sy dood. Hy is dan ook dood aan 'n gebarste hartslagaar (as gevolg van 2 klippe wat hom in sy linker lies getref het.) en die bloed het oor die hart gestoot. Die Dokter wat die lykskouing gehou het was ene 62 jarige Jean Prieur du Plessis en die buurman van Charles moes bystaan en hy was Jacques de Savoye. Die nadoodse ondersoek papiere is te siene in die Kaapse agriewe volgens die skryfster van die boek. Charles se plaas was aan die hange van die Simonsberg en hy het maar net 6 maande daar geboer voor sy moord, en dat die Hottentot kraal daar naby was. Charles se buurman was Afrikaans magtig want hy het jarelank in Flandere gewoon en kon die vertaling van die verslag doen woord vir woord. Die verslag lui soos volg: I have been in Drakenstein and have examined Charles Marais, who died after being struck in the left groin by two stones thrown by a Hottentot on 29th March. I opened the wound in the presence of Monsieur the Landrost Jan Mostert, Hendrik de Cochè and Jacques de Savoye as Heenraad of Stellenbosch and Drakenstein. I found a great inward and outward contusion and the heart artery broken, which having collected much blood, overwhelmed the heart and caused death. In token of the truth hereof I have signed it, J.Prieur du Plessis.


TRAGIESE VERHAAL VAN F.A. MARAIS (Pauline se oupa). Eksekutie 10 Julie 1901 - Middelburg, K.K. Veroordeeld door een krijgsraad.

Hier volg 'n uittreksel uit die boek "Hoe zij stierven", saamgestel deur G. Jordaan. (Wat ek hier skryf is nie die volledige verhaal nie en is vrylik uit Nederlands na Afrikaans vertaal. - James Sadie)

Op 9 Julie 1901 is 'n groot aantal mense van Middelburg aangesê om op die markplein teenwoordig te wees vir die verhoor van F.A. Marais vir 'n klag van hoogverraad. Hy is deur die militêre kommandant die doodvonnis opgelê. Volgens die skrywer was hy baie ontsteld aangesien hy vas geglo het dat hy onskuldig was.

Hy is die volgende môre na die galg gely deur die beul, waar daar 'n groot skare teenwoordig was, wat gedwing was om die teregstelling by te woon. Hy kom nou baie kalm voor na die ontsteltenis van die vorige dag. Voor hy die galg in boeie bestyg, gaan staan hy voor die kommandant en stafoffisier van generaal Frensch en sê: "Ek word onskuldig opgehang, ek het genade ontvang om u te vergewe, maar bid tot God dat Hy julle ook mag vergewe." .

Daarna het hy die skavot bestyg en met 'n sterk stem en met sy regterhand omhoog uitgeroep: "My God! My God! My God! U aanskou die dade wat aan my en my volk gedoen word, hoor ons tog en help ons." Die militêre amptenare beveel die dokter om hom by te staan, aangesien hulle onder die indruk was dat hy in 'n beswyming is, maar hy weier die hulp en roep uit: "Ek is nie siek nie, ek kla u slegs by God aan."

Die leraar wat saam op die skavot was het daarna 'n kort gebed gedoen. Met die tou reeds om sy nek, met geslote oë het hy uitgeroep: "My God!" Toe die luik val het daar 'n gemompel onder die toeskouers ontstaan en hulle het soos een stem gesê: "Nou is hy by Jesus en julle kan niks meer aan hom doen nie."

Die owerhede het die versoek dat sy lyk aan die familie uitgelewer word geweier. Vyf mans, die predikant ingesluit, het die lyk na die graf by die lokasie gevolg, waar twee sakke kalk oor hom uitgestrooi is voordat die graf toegegooi is. Sy vrou het eers 'n week na die vonnis voltrek is daarvan gehoor.

BRIEF VAN F.A. MARAIS AAN SY VROU

Hier volg die volledige brief wat hy aan sy vrou geskryf het. Die brief is uit Nederlands vertaal: Middelburg, 8 Julie 1901.

Juffr. A.C. Marais.

Waarde en nooit te vergete Vrou.
Hiermee moet ek jou die treurige tyding bring dat ek jou nou moet agterlaat. Maar, my liefste moet nie daaroor ontsteld wees of treur nie want dit is God se wil. As dit God se wil was sou ek vrygekom het maar ag, onthou Hendrik van Heerden. Ek moet hom volg. Doen tog jou bes om die liewe Here nooit te vergeet nie en moet my ook nie daarvan verdink, want ons dierbare God en Here Jesus het gesê: Julle gedagtes is nie my gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie. Daarom my liefste moet jy tevrede wees en nie daaroor murmureer nie. Ek moet julle maar net vooruitgaan. Dink daaraan, die Here het gegee en die naam van die Here word geloof. Liefste vergeet tog nie hoe ons saans op ons knieë gegaan het om ons liewe Here, waarheen ek nou wil gaan, te dank, te loof en te prys nie. Voed ook ons kinders op vir die liewe Here. Ag dat ons almal mekaar daarbo sal ontmoet, waar niemand meer sal swaarkry of trane sal stort nie, dat nie een van ons daar gemis sal word nie. O, dit sal tog heerlik wees as ons saam daar kan wees aan God's regterhand. Liewe vrou, wees tog maar tevrede, bid tog gedurig dat die Here jou stok en jou staf sal wees. As die moeilike dae kom, gaan tog alleen en bid en vra die Here, Hy is altyd gereed om te help. Ag, ek het gedink ek sal dit nooit kan deurstaan nie, maar my dierbare Jesus gee my die krag om dit te dra. Stephanus word gestenig en onder die marteling vra hy nog: Here vergeef hulle, want hulle weet nie wat hul doen nie. Dink daaraan hoe dit gegaan het met ons liewe Here Jesus. Ag, neem dit tog getrou in ag dan sal jy sien waarom ek hierdie pad moet loop. Liefste, as jy hartseer is, neem die Bybel en lees Romeine Hoofstuk 8.

Ek het deur die seën van die Here tog die leraar van Middelburg. Ag, nadat hy met my gepraat het, het ek aangenaam geslaap. Verder, my liefste, wees nou maar tevrede, jy weet nou waar jy my weer sal ontmoet. So sê ek: "Tot weersiens, tot weersiens."

O, my liewe Annie en my kindertjies, ek vertrou julle toe aan die hand van my liewe Heer; Hy kan help. Verder liefste weet en nie wat meer ek kan skrywe nie. My tyd is kort en kosbaar. Daarom vra ek jou om vir swaer Fanie te vra om maar weer vir Frekie by hom te neem. Jy kan daarom iets vir hom doen. As jy kan, gee vir hom twintig ooie en laat hom na sy pa gaan. Liewe, ek weet nie wat om vir jou te sê, of jy maar na oupa moet gaan, maar ek gee jou in Boet Marthinus se hande na oupa se dood. Hy moet tog weet hoe lief ons vir mekaar was en nog steeds is. Liefste, gee tog die brief aan ma en oupa ook om te lees, en al my broers en susters. Ag my broers en susters doen tog jul bes om die liewe Here gedurig voor oë te hou; verlaat Hom tog nooit! Ag dit sal tog heerlik wees as ons almal mekaar weer daarbo sal ontmoet en saam die Hemellied sal sing: Heilig, Heilig, Heilig, is die Heer van die leërskare, vrede op aarde en ere in die Hoogste Hemele.

Boet Fanie, ek is nie meer die mens van die aarde nie; nog 'n klein tydjie dan moet ek verhuis, maar o my liewe broer, daar is tog niks tussen ons, alles is reg. Sorg tog maar vir Annie en die kindertjies so lank jy kan. O, my broer die liewe Here sal met jou regmaak, maak tog haar besigheid ook reg.

Nou moet ek maar sluit met die beste groete aan jou, my geliefde vrou en kindertjies. Ek vertrou julle toe alleen in die hand van die liewe Here, met die laaste groete ook aan oupa en ma en al my broers, susters en vriende. Ek groet jou ook met die groete van 'n beminde. Tot weersiens, tot weersiens, almal wat vir my lief en dierbaar is.

Jou liefste
F.A. Marais Pzoon.